Menu

Ja-nee kyk, dit is daardie tyd van die jaar wanneer ons diertjies krap dat die biesies bewe! Met die verwisseling van seisoene is allergieë en droë jeukerige velle ons troetediere se voorland. Ongelukkig is daar geen blitsoplossing vir hierdie probleem nie, maar gelukkig het ons ePETstore veearts, Dr Tanya, ‘n plan beraam om jou gesin en troeteldiere te help om diè bul by die horings te pak!

 

HOEKOM JEUK EN KRAP MY DIERTJIE SO?

Jou troeteldier se immuunstelsel oorreageer op ‘n omgewings- of kosirritasie wat plaasvind. Sekere allergieë vererger ook gedurende sekere seisoene. Ons moet egter ook besef dat in die meeste gevalle allergieë ‘n lewenslange probleem is. 

Hier is vier stappe as ‘n beginpunt om jou te help om jou dier se ongemak te verminder:
 

  1. VOORKOMING OF BEHANDELING VAN VLOOIBYTE

Die algemeenste irritasie vir diere is vlooispeeksel. Ag tog. Dit neem slegs een vlooibyt om ‘n massiewe reaksie te veroorsaak in honde wat juis sensitief vir hierdie parasiete is. Al die diertjies in die huis moet bosluis- en vlooibehandeling kry. Ons ePETstore veearts stel ‘n streng maandelikse behandeling soos REVOLUTION of FRONTLINE vir katte voor en ‘n maandelikse behandeling soos NEXGARD vir honde (of selfs BRAVECTO wat slegs elke derde maand toegedien word).

Let wel: 48 uur na ‘n ‘spot-on’ behandeling mag hulle nie swem, nat word of gebad word nie.

Is die bogenoemde maatreëls voldoende? Nee, dit is nie. Jy MOET ook die omgewing waarin jou troeteldiere beweeg terselfdertyd behandel met iets soos ULTRUM SPRAY. Spuit jou beddegoed, hulle beddegoed, die matte, onder die bank, in hulle bedjies en op enige ander plekke waar hulle baie tyd spandeer. Hoekom? Want daardie stoute vlooie is baie lief daarvoor om na vlooibehandeling van jou dier se lyf af te spring en in die huis weg te kruip. So bitter voorbarig, ek weet.

 

  1. PROBEER OM UIT TE VIND WAT DIE IRRITASIES VEROORSAAK

Probeer dink aan al die kere wanneer jou diertjie se vel geïrriteerd begin raak het. Was dit in die somer? Of miskien elke keer wanneer hulle in die park was?

Teken elke keer wat daar ‘n gejeuk of gekrap is aan, met redes hoekom jy dink hulle krap en watter tyd van die jaar die gekrappery die meeste plaasvind. Gesels met vriende, familie of natuurlik met jou veearts oor wat hulle dink die oorsaak kan wees. Verwyder daardie oorsaak uit jou troeteldier se lewe (indien moontlik), al beteken dit ook dat julle na ‘n ander park moet gaan.

As jou troeteldier se vel geïrriteerd en jeukerig raak na badtyd, belê dan in ‘n pH-neutrale sjampoe soos PHYSIOLOGICAL SHAMPOO en bad hulle slegs wanneer dit regtig NODIG is.

‘n Ander alternatief om die jeukmonster hok te slaan is om jou diere te laat toets vir allergieë. Baie laboratoriums bied ‘n reeks toetse aan ten einde die oorsaak van die allergie te identifiseer. Die resultate sal presies aantoon wat jou diertjies moet vermy. Hierdie toetse kan verskillende omgewingsirritasies opspoor soos bv. motte, muf, gras ens. Onthou om jou veearts te raadpleeg indien jy meer inligting verlang en onthou hierdie tipe toetse is slegs om omgewings-allergieë te identifiseer en nie kosallergieë nie.

Gepraat van kos, suiwer kosallergieë is skaarser as wat jy dink. Slegs 10% van allergieë is weens kos. En van daardie 10% is weens graan. So kyk eerste na die omgewing as jy die oorsaak soek. 

As jy sterk glo dat jou troeteldier se kos die skuldige party is,  raadpleeg jou veearts oor ‘n voedsel-eliminasie proef of ‘n gehidroliseerde dieet.

 

  1. VERSTERK DAARDIE IMMUUNSTELSELS

Diëte wat die vel ondersteun sorg dat jou dier ‘n gesonde hoeveelheid omega vetsure inkry. Die vetsure ondersteun hulle immuunstelsels, help om hulle vel te genees en om inflammasie op ‘n sellulêre vlak te beheer. SJOE! Veeartsterme. In diere-mamma en -pappa terme: ‘n goeie dieet om te oorweeg is EUKANUBA SENSITIVE SKIN hondekos of ROYAL CANIN SENSITIVITY CONTROL vir honde en ROYAL CANIN SENSITIVITY CONTROL vir katte.

Dieetaanvullings soos EFAZOL en MIRRA-COTE bevat ook ‘n magdom Omega 3 vetsure, sink en vele ander vitamiene om jou troeteldier se vel gesond te hou.


Medisinale sjampoe soos ALLERMYL bevorder die gesondheid van hulle pels. Asseblief, besef tog net dat hierdie sjampoe slegs gebruik word vir die behandeling van vel- en pelsprobleme en NIE om stoffies en blaartjies af te was NIE.

En laastens daardie ore! Meeste oorinfeksies vind juis plaas weens ‘n onderliggende allergie. Om drama te vermy, kan jy jou hondjie se ore daagliks (of ten minste twee keer per week) was met EPIOTIC. Hierdie produk verander die pH binne die oortjie en verhoed dus dat bakterieë groei en gisinfeksies plaasvind.

 

  1. LUISTER NA JOU VEEARTS SE RAAD EN VOORKOM DIE OPVLAM VAN HIERDIE IRRITASIES

Indien jou troeteldier se vel altyd geïrriteerd raak gedurende ‘n sekere tyd van die jaar of by die kus, praat met jou veearts en wees voorbereid. As jy bewus is van hoe allergiese reaksies op hulle vel lyk (rooi, geïrriteerd, krapperig), gaan dadelik na jou veearts vir ‘n kort kortisoonkursus of kortisoonsproei voordat die allergie hand-uit ruk of infeksie plaasvind.

Allergieë veroorsaak dat die vel se natuurlike beskermingsmeganisme in gedrang kom en dit kan veroorsaak dat normale bakterieë wat op die veloppervlakte vakansie hou ‘n infeksie kan veroorsaak. Moenie wag totdat jou troeteldier se vel en ore begin stink, bloei of pynlik raak nie, want DIT gaan net langer duur en sterker medikasie benodig om onder beheer te kry. Indien so ‘n situasie wel per ongeluk plaasvind, hou jou veearts ingelig en werk saam om jou diertjie so gemaklik as moontlik te hou, want ja, medikasie het newe-effekte.

 

LAASTENS:

Met die verandering van seisoen moet ons ons perspektief ook verander ….

Weereens: hierdie stappe is slegs ‘n aanduiding vir jou hoe om jou troeteldier se ongemak te verminder (en miskien ook die stres van motorrit na die veearts uit te skakel). Onthou maar altyd dat elke geval uniek is - doen maar net jou bes, dit is tog al wat jou troeteldier van jou verwag.

Comine du Toit
Animal lover and cat fanatic, Comine du Toit is a Freelance Copywriter at ePETstore in South Africa. She is a mom to a very energetic Sphynx, and the godmother to a clowder of cats, a kennel of dogs as well as a flock of geese. She's a firm believer that pets are family.
read more ⟶
Leave a comment
You might also like

Hoe om die Regte Katsand vir jou Kat te Kies

Dit is uiters belangrik om ons bondeltjie liefde met die regte katsand te bederf, want onhigiëniese katsand kan gevaarlik wees vir hulle, en natuurlik vir ons ook. Hier is ʼn lys met voor - en nadele, gebaseer op my ervaring van hierdie katsand en katsand produkte....
views: 215

Reis sonder Moeite met Jou Diertjie: Top Wenke

Beplan jy ‘n naweek wegbreek, toer na die kus of skoolvakansies in die Widltuin met jou troeteldier? Hier is my top wenke om hulle gemaklik en veilig van punt A na punt B te kry, en natuurlik om ‘n goed voorbereide en voorspoedige reis binne die grense van Suid-Afrika te verseker....
views: 500